Die DA het Vrydag sy bloudruk vir die herstel van Pretoria bekendgestel.
Cilliers Brink, die DA se burgemeesterskandidaat in die Tshwane-metro, het die party se verkiesingsmanifes aan die ondersteuners van die party en lede van die media in die gemeenskapsaal in Mamelodi-Wes voorgehou.
Brink het, met die oog op die komende plaaslike regeringsverkiesing wat op 4 November vanjaar plaasvind, ’n dringende beroep op kiesers gedoen om “die stad terug te neem” van korrupte netwerke en vervalle infrastruktuur.
“Hierdie is nie enige stad nie; dis ons hoofstad. Dit verteenwoordig die siel van ons Republiek,” het Brink gesê.
Brink sê die Tshwane-metro is deur watertenkwa-mafias en sogenaamde “waBonzos” gekaap wat by die stadsraad se agteruitgang baat. Hy sê die doelwit eenvoudig: as dienste werk en strate veilig is, sal beleggers terugkeer en werksgeleenthede volg. Die DA onderneem om die metro te transformeer deur middel van dié vyf aksieplanne:
• Korrupte amptenare en tenderpreneurs sal afgedank word en hulle sal met eerlike werkers vervang word.
• Wet en orde sal herstel en korrupsie hokgeslaan word.
• Infrastruktuur sal herstel en opgradeer word deur private vennote te betrek.
• Die waarde van munisipale bates sal ontsluit word.
• Daar sal met georganiseerde gemeenskappe saamgewerk word om gebiede te beveilig en skoon te hou.
Brink sê as die party aan die ondernemings uitvoering kan gee kan die metro se finansies aansienlik verbeter en dat dit hulle sal toelaat om die projekte wat lank verwaarloos is, af te handel.


























