Posted on

Ondersoek geloods ná inbraak by SANW-basis


Woorde: Frank Botha

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se Lyttleton militêre basis in Pretoria, was die afgelope naweek die slagoffer van inbrekers. Volgens ‘n amptelike verklaring van die SANW, het die inbrekers hulle toegespits op aanvalsgewere en ammunisie. Voorlopige inligting dui daarop dat drie R4-gewere en twee 40 mm-meervoudige vuurpylwerpers gesteel is. ‘n Stafsersant het die inbraak aangemeld. Die diefwering van ‘n sinkstoor was oopgebreek.

By nadere ondersoek, het die stafsersant besef dat van die vuurwapens weg is, het brig.genl. Selinah Rawlins, SANW-woordvoerder, in die verklaring gesê. “Die SANW is tans besig om vas te stel of nog toerusting of items vermis word.”

Sy het bygevoeg daar word vermoed die oortreders het toegang tot die basis gekry deur ‘n gat in die grensdraad te knip. Leë SANW-toerustingkiste is in nabygeleë bosse gevind. Geen arrestasties is nog gemaak nie.

Die polisie in Gauteng het navrae oor die voorval na die SANW verwys. Volgens Rawlins ondersoek die Thaba Tshwane-militêre polisie die inbraak. Die weermag het onderneem om die publiek op hoogte te hou.