
Woorde: Frank Botha
Altesaam 67 plase wat 25 jaar gelede onder die destydse rassistiese skrikbewind-regering van wyle oudpres. Robert Mugabe van wit boere onteien is, gaan aan eienaars in vier Europese lande teruggegee word.
Zimbabwe se landbouminister, Anxious Masuka, het die parlement ingelig dat die proses reeds aan die gang is, aangesien die plase onder ‘n internasionale bilaterale beleggingsbeskermingsooreenkoms val. Die betrokke lande is Denemarke, Switserland, Duitsland en Nederland. Die stap word beskou as deel van ‘n breër strategie om internasionale beleggersvertroue te herstel en toegang tot globale finansiële markte te verkry.
Die onteiening onder Mugabe het kommersiële landbou verwoes, tot ‘n geldeenheid-ineenstorting in 2008 gelei, en het die land in ‘n voedselkrisis gedompel. Grondonteiening sonder vergoeding – klink dit bekend?
Benewens die teruggee van die plase, sal Zimbabwe ook vergoeding van $146 miljoen betaal om eise van betrokke Europese eienaars te skik. Pres. Mnangagwa het reeds in 2020 ‘n skikkingsooreenkoms van $3,5 miljard met sowat 4 000 wit boere onderteken, maar die Zimbabwise regering het gesukkel om dit te betaal.

























