
Woorde: Frank Botha
Pres. Cyril Ramaphosa het die uitspraak van die Grondwetlike Hof oor die Nasionale Vergadering se hantering van Artikel 89-prosedures aanvaar. Die hof het gister onomwonde beslis dat die parlementêre stemming oor die Phala Phala-verslag, wat Ramaphosa vrygespreek het, ongrondwetlik en ongeldig is.
Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder, sê die president respekteer die hof se besluit en bly toegewy aan die Grondwet, die onafhanklikheid van die regbank en die beginsel van die oppergesag van die reg. Hy sê Ramaphosa het deur die hele proses met ondersoeke saamgewerk en glo dat alle sake op ’n regverdige en wettige wyse hanteer moet word. Volgens hom is niemand bo die reg verhewe nie en moet alle bewerings deeglik ondersoek word.
Geordin Hill-Lewis, burgermeester van Kaapstad, sê die regsproses moet sy volle verloop neem namate die Phala Phala-skandaal nou in die rigting begin beweeg van ’n moontlike afsettingsproses van die President van Suid-Afrika. Dit verwys na ’n grondwetlike prosedure waardeur ’n staatshoof amptelik tot verantwoording geroep en moontlik uit sy/haar pos verwyder kan word. Hy beskryf dit as ’n deurslaggewende tyd vir die Parlement, vir die Presidensie en vir die land se grondwetlike demokrasie. Hy meen die komitee wat die saak ondersoek, moet sy werk noukeurig, billik en volgens die Grondwet doen. Hy sê voorts die President moet die kans kry om die saak volledig te verduidelik.
Volgens Hill-Lewis wys die uitspraak ook op ’n duidelike verskil tussen die DA en die ANC.
Hy voer aan dat die ANC oor die jare heen ’n kultuur toegelaat het waar aanspreeklikheid dikwels uitgestel of vermy word wanneer dit polities ongerieflik geraak het. Hy sê die DA staan eerder vir ’n bestel waar die Grondwet voorrang geniet en waar geen leier daarvan vrygestel word om verantwoording te doen nie.

























