
Deur Frank Botha
Oud-NP-minister- en onderhandelaar Roelf Meyer, is Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in die VSA.
Meyer (78) was een van die hoofonderhandelaars tydens gesprekke om Suid-Afrika se demokratiese oorgang te verseker. Hy het destyds nóú saam met Ramaphosa gewerk, en het ‘n sentrale rol gespeel in die onderhandelings met die ANC wat uiteindelik tot ‘n politieke skikking vir die “nuwe” Suid-Afrika gelei het.
Suid-Afrika wag al maande om te hoor wie Ramaphosa as ambassadeur na Washington gaan stuur in die hoop om die Suid-Afrika en die VSA se huidige uiters stram politieke verhouding te beredder.
Betrekkinge tussen Amerika en Suid-Afrika het versuur nadat pres. Donald Trump in Januarie verlede jaar sy terugkeer tot die Withuis gemaak het. Nadat die VSA verlede jaar vir Ebrahim Rasool persona non grata verklaar het en uit die land geskop het, het Suid-Afrika nog nie weer ‘n ambassadeur aangewys nie.
Ramaphosa het wel onlangs die geloofsbriewe van Brent Bozell, die VSA se ambassadeur in Suid-Afrika, aanvaal – volgens talle ‘n aanduiding van ‘n moontlike herstel in diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande.
























