Posted on

Peet Viljoen op O.R. Tambo vasgetrek


Deur Frank Botha

Peet Viljoen is Dinsdagaand op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg in hegtenis geneem kort nadat hy om 18:00 van New Jersey in die VSA in Suid-Afrika aangekom het. Viljoen is Maandag uit Amerika gedeporteer nadat hy verlede week eers van die Amerikaanse agentskap vir immigrasie- en doeane-afdwinging (ICE) se California City-aanhoudingsentrum na ‘n ander onbekende aanhoudingsentrum oorgeplaas is.

Volgens sy vrou, Mel, moes Viljoen die naweek op ‘n sementvloer slaap totdat hy na ‘n perseel vervoer is, en daarvandaan na ‘n lughawe in New Jersey gevlieg is. Maar Viljoen se geluk was van korte duur. Enkele minute nadat hy op die O.R. Tambo-lughawe geland het, het Mel, verneem dat ‘n lasbrief uitgereik is vir sy inhegtenisneming.

Mel het telefonies by haar man gehoor dat die grenspolisie hom voorgekeer het. Sy het gehoor ‘n lasbrief is uitgereik vir sy arrestasie op aanklagte van bedrog, diefstal en korrupsie, wat dateer van 2010.

Die saak hou verband met ‘n beweerde komplot om staatseiendomme wat aan die Johannesburg-metro behoort het, na bewering op ‘n bedrieglike wyse te bekom en onregmatig te verkoop.

Viljoen is in 2011 op hierdie klagte in hegtenis geneem en aangekla, asook as prokureur van die rol geskrap.

Die saak is egter in 2024 deur die Pretoria-hooggeregshof weens regstegniese kwessies uitgegooi en die aanklagte is voorlopig teruggetrek. Dit wil egter blyk of die aanklagte intussen weer teen Viljoen aanhanig gemaak is.

Ná sy inhegtenisneming op die O.R. Tambo-lughawe, is Viljoen na die Sunnyside-polisiekantoor in Pretoria geneem waar hy die nag moes deurbring voor sy hofverskyning Woensdag.