Posted on

‘Ons Vir Jou’ op die planke by AfriForum Teater

Ons Vir Jou, die Tweede Vryheidsoorlog-musiekspel uit die pen van Deon Opperman en Sean Else, en met musiek deur Johan Vorster, kom in April 2026 vir die eerste keer in meer as ’n dekade weer op die planke. Bok van Blerk gaan boonop die rol van die rateltaai Boeregeneraal Koos de la Rey vertolk in dié produksie wat hierdie keer met ’n geknal van Mausers en die dreuning van kanonne na die AfriForum Teater in die ooste van Pretoria kom.

Dié ikoniese musiekspel, die eerste vollengte musiekspel oor die verwoestende oorlog van 1899–1902, het in 2008 in die Staatsteater gedebuteer. Dit het daarna op publieke aandrang in 2009 en 2012 teruggekeer na die Staatsteater waar dit weer uitverkoopte speelvakke beleef het. Die produksie het selfs in 2013 ’n Kaapse draai gemaak toe dit by die Artscape-teater opgevoer is. Hierdie keer vat AfriForum en die span van Inhoud Huis Musiek, wat verantwoordelik was vir musiekteatertreffers soos Die Gelofte, Die Kaplyn, Die Afrikaner Maak So en Semi-Soet – Die Musiekblyspel, hande om dié verhaal na die AfriForum Teater te bring. Vanaf 29 April tot 24 Mei by AfriForum Teater in Pretoria.