
Deur Frank Botha
Die Wierdabrug-polisie in Centurion ondersoek ‘n saak van poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging ná ‘n afgetrede dominee Vrydag in die vroeë oggendure deur ‘n rower in sy bors geskiet is tydens ‘n huisrooftog in Raslouw.
Alex Wessels (81) het omstreeks 02:30 wakker geword van ‘n geluid en vermoed iets het op die dak geval. Hy het kort daarna gehoor hoe sy stoele op die stoep rondgeskuif word, onraad vermoed en ondersoek gaan instel.
Wessels het glo in die kombuis gestaan en drie rowers wat met hul rûe na hom gestaan het, op die stoep gesien. Op die ingewing van die oomblik het hy besluit om geraas te maak in ‘n poging om die rowers af te skrik. Wessels het sy hande geklap, waarna twee van die rowers gevlug het. Een het egter omgedraai en op hom losgebrand.
Die booswig het drie skote op Wessels afgevuur, waarvan een deur sy bors gegaan het. Die ander skote het die kombuiskaste getref. Wessels het eers agter ‘n kas geskuil en die bloed teen sy sykant voel afloop voordat hy sy vrou, Hannie, gevra het om hulp te ontbied. Die egpaar bly in ‘n woonstel op dieselfde erf as hul seun Wynand.
“Ek het die sekuriteitsmaatskappy, polisie en ambulans ontbied,” sê Wynand. “Met hul aankoms, is my pa dadelik behandel en die bloeding is gestop voor hy na ‘n hospitaal geneem is.”
Dit was volgens hom niks minder nie as Goddelike ingryping dat sy pa oorleef het.
“Die koeël het regdeur sy bors gegaan sonder om sy hart, longe of ribbes te tref – ‘n ware wonderwerk. Die Here het my pa bewaar.” Wessels was vir sowat 34 jaar in die bediending en vroeër ‘n pastoor by die Pinkster Protestante Kerk in Roodepoort. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
























