
Deur Frank Botha
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, meen pres. Cyril Ramaphosa se keuse van ambassadeur in die VSA is teleurstellend. Die presidensie het Dinsdagaand bevestig die oud-NP-minister en -onderhandelaar Roelf Meyer is as Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in Amerika aangewys. Hy volg Ebrahim Rasool op.
Hermann meen Meyer se aanstelling gaan geen vertroue onder gewone Afrikaners inboesem nie.
“Hy is ‘n afgetrede politikus uit ‘n vorige bedeling. Dit is nie die antwoord vir die herstel van verhoudinge nie. Dis net nóg ‘n fout van die Suid-Afrikaanse regering in hul verhouding met die Amerikaanse regering.”
Dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus, is óók nie beïndruk met Ramaphosa se keuse van ambassadeur nie.
“Roelf Meyer was hoofonderhandelaar van die NNP-regering tydens Kodesa met die ANC. Daarna het hy by die ANC aangesluit. Dit is die ekwivalent van Jerry Adams van Sinn Féin wat by die Torries in die VK aangesluit het, of Yasser Arafat van die PLO wat by Likud aansluit. Sy geloofwaardigheid is, om die minste te sê, ernstig problematies.”
Dr. Theo de Jager, uitvoerende hoof van Saai, het daarop gewys dat Suid-Afrikaanse boere nie weet wat Meyer se standpunte oor kritiese plaaslike landboukwessies soos onteiening sonder vergoeding, plaasaanvalle en landelike veiligheid, swart ekonomiese bemagtiging of familieboerderye óf “Kill the Boer” is nie.
En dit is bloot omdat Meyer hom nog nooit oor dié kwessies uitgespreek het nie.
“Aangesien al vier hierdie kwessies van die VSA se kant af duidelike voorwaardes vir die herstel van diplomatieke betrekkinge (tussen Pretoria en Washington) behels, hoop die meeste boere dat Meyer in sy nuwe amp die breër belange van Suid-Afrika voorop sal stel, en nié die standpunte van Fikile Mbalula sal eggo nie.”
























