
Deur Frank Botha
Die hof het ‘n bekende radiopersoonlikheid verbied om verdere lasterlike bewerings oor Julius Malema, EFF-leier, in die openbaar te maak. Die hooggeregshof in Pretoria het vandeesweek ook bevind dat uitlatings wat Ngizwe Mchunu, onder meer van Vuma FM, in April gemaak het, onregmatig en lasterlik was.
Mchunu het tydens onderhoude op 28 en 30 April verskeie ernstige aantygings teen Malema gemaak. Hy het onder meer beweer Malema is korrup, het bande met onwettige immigrante, en baat finansieël by misdaad.
In ‘n eedsverklaring, wat deel gevorm het van Mamela se dringende aansoek om Mchunu te verbied om verdere lasterlike uitlatings oor hom in die openbaar te maak, het Mchunu ook beweer Malema het “onlangs R60 miljoen van Nigeriese dwelmhandelaars ontvang”. Volgens Mchunu sou Malema “bereid wees om alles wat hy polities het, af te staan om Nigeriërs en ander onwettige immigrante te beskerm”. Hy het verder ook ‘n reeks persoonlike en politieke aanvalle teen Malema geloods. Mchunu het Malema verder daarvan beskuldig dat hy geld van On Point Engineering ontvang het, “VBS geplunder het” en “onwettige buitelanders se geld geëet het”.
Daarbenewens het hy Malema as ‘n “politieke duiwel” beskryf en beweer “die president is bang vir hom”.
Malema se regspan, England Slabbert Attorneys Inc., het Mchunu aanvanklik in ‘n skrywe gewaarsku dat sy lasterlike bewerings op verskeie sosialemediaplatvorms herhaal en versprei word.
Die regspan het aangevoer die bewerings is vals en Malema se goeie naam – ‘n reputasie waarop hy staatmaak om sy pligte as parlementslid, asook president en opperbevelvoerder van die EFF uit te voer.
Volgens Malema se regsverteenwoordiger, skep Mchunu se uitlatings die indruk dat sy kliënt ‘n “misdadiger, ‘n bedrieër en oneerlik” is, sonder integriteit optree, opportunisties en manipulerend is, en nie oor die nodige morele en etiese standaarde beskik wat van ‘n politieke leier verwag word nie.
Die regter het op 12 Mei beslis die verklarings is lasterlik en die hof het Mchunu gelas om die bewerings nie weer “eksplisiet, implisiet of andersins” te herhaal nie. Die tussentydse bevel is intussen permanent gemaak.
Die regter het ook ‘n bestraffende kostebevel teen Mchunu toegestaan.
























