Posted on

Konstruksie van die Uniegebou


Deur Frank Botha

Geleë bo-op Meintjieskop duskant Arcadia, pronk die imposante Uniegebou. Die foto hierbo is geneem in 1921, 8 jaar nadat die gebou amptelik in 1913 in gebruik geneem is. Ontwerp deur die Britse argitek Sir Herbert Baker en gebou uit sandteen, is die Uniegebou vir dekades reeds sinoniem met Pretoria. Die hoeksteen word gelê in November 1910. Die Uniegebou is vernoem na die Unie van Suid-Afrika, wat op 31 Mei 1910 tot stand gekom het.

Konstruksie van die Uniegebou het langer as drie jaar geneem en is eindelik in 1913 voltooi. Sowat 1 265 werkers is ingespan. Die totale koste beloop £1 310 640 vir die gebou en £350 000 vir die terrein. As kind, was ek gek oor die klokkespel. Wanneer ookal ons die Uniegebou besoek het, het ek aangedring om daarna te luister en moes my ouers noodgedwonge lank genoeg daar vertoef totdat die klokke gelui het. Die Uniegebou se klokkespel is identies aan dié van Big Ben in Londen. In 2014, het die klokke en horlosie egter weens ‘n meganiese fout ophou werk.

Die Uniegebou is 275 m lank en is in die vorm van ‘n halfmaan gebou. Die twee sye verteenwoordig die Afrikaanse en Engelse gedeeltes van die bevolking. Die tuine rondom die gebou bestaan slegs uit inheemse plante.

Ek het van kunsmatige intelligensie gebruik gemaak om foto’s van die konstruksie van die Unigebou mee in te kleur. Krediet vir die gebruik van die oorspronklike foto’s gaan aan Riana Mulder van Pretoria Historia.